Ons Kinder- en Jeugsorgsentrums (KJSS’e) baat geweldig by vrywilligers wat gespesialiseerde dienste gratis aanbied. Daar is verskeie maniere om betrokke te raak, hetsy deur direkte interaksie met die kinders of deur indirekte ondersteuningsaktiwiteite, wat ’n blywende en betekenisvolle impak kan hê.
Direkte betrokkenheid:
Naweekouer / Gesinsplasin
Hierdie geleentheid bied korttermyn interaksie aan kinders uit minder bevoorregte agtergronde. Goedgekeurde ouers/gessinne kan kinders vir dagbesoeke of naweke huisves, om spesiale herinneringe te skep sonder ’n langtermynverbintenis.
Vakansieouer
Gesinne wat deelneem, ondergaan ’n deeglike keuringsproses. Die fokus is op die bou van langtermynverhoudings tussen kinders en gesinne. Ons poog om gesinne en kinders op ’n wyse te pas wat ondersteunende bande kweek.
Sorg vir die Sorggewer
Ons kinder- en jeugsorgwerkers werk dikwels onder uitdagende omstandighede. Vrywilligers kan hulle bederf met ’n koffie of net ’n bemoedigende boodskap. ’n Eenvoudige gebaar van waardering beteken baie.
Verjaarsdag-tannies of -oom
Vier ’n spesifieke kind se verjaarsdag met lekkernye en bederf. Hierdie “onsigbare helde” maak ’n groot verskil aan ’n kind se lewe.
Huiswerkondersteuningsprogram
Vrywilligers met gespesialiseerde kennis word benodig om kinders met leeruitdagings te help. Twee kontakgeleenthede per week word verwag vir volgehoue ondersteuning.
Mentorskap en ondersteuning vir versorgingsverlaters
KJSS’e het jong volwassenes wat ondersteuning benodig wanneer hulle versorging verlaat, byvoorbeeld met ID’s, bankrekeninge en leerlinglisensies. Jou begeleiding help hulle ’n nuwe lewensfase aanpak.
Gespesialiseerde sorgprogramme
Ons benodig pro bono dienste soos spelterapie, arbeidsterapie, spraak- en psigoterapie, asook tandheelkundige en algemene mediese sorg. Jou professionele kundigheid bevorder kinderontwikkeling en welstand.
Indirekte betrokkenheid:
Gespesialiseerde dienste
- Plaagbeheer: Help om ’n gesonde omgewing vir kinders te handhaaf.
- Diep skoonmaak: Vrywilligers met professionele skoonmaakvaardighede is nodig.
- Gesondheid en Veiligheid: Kundiges kan help met riglyne vir personeel- en kinderveiligheid.
- Afvalbestuur: Bydra tot volhoubare afvalhanteringstelsels in sentrums.
Instandhouding en Bestuur
- Algemene instandhoudingsadvies: Help met kostebesparende herstelplanne.
- Voorkomende instandhoudingsbeplanning: Ontwikkel diensskedules vir toerusting en geboue.
- Voertuigdiens: Hou vervoervoertuie vir kinders in veilige toestand.
Tuinwerk
Tuinonderhoud by spesifieke KJSS: ’n Bydrae tot ’n mooier, speelvriendelike omgewing. Hierdie dienste word dikwels agterweë gelaat weens beperkte fondse.
Speeltoerusting-onderhoud
Regmatige instandhouding van swaaie, klimrame en ander speeltoerusting is noodsaaklik. Help om dit veilig en bruikbaar te hou.
Geboue en terreinadvies
Bied insig en leiding oor strukturele instandhouding en terreinverbetering vir funksionele ruimtes.
Winkelhulp
Help in die liefdadigheidswinkel met ontvangs, sortering en verkoop van geskenkte items ten bate van die sentrum.
Fondswerwing
Vrywilligers met ervaring in funksie-reëlings kan help om fondse in te samel, ’n kernaspek van volhoubaarheid.
Bestuursraad-deelname
Individue met gespesialiseerde kundigheid kan op bestuursrade dien en aktief by strategiese beplanning betrokke wees..
Deur hierdie dienste aan te bied of in projekte deel te neem, kan jy die omgewing en funksionering van ons sentrums verbeter en ’n werklike verskil maak in kinders se lewens.
Raak betrokke en help ons om liefde, ondersteuning en geleenthede te bring na dié wat dit die nodigste het.
Stuur gerus ‘n e-pos na info@engo.co.za of skakel ons by 060 548 5543.
Dankie dat jy oorweeg om ’n blywende verskil te maak!
