Op 17 Maart vier ons Internasionale Maatskaplike Werkersdag. Engo het tans 81 maatskaplike werkers wat diens lewer by Kinder- en Jeugsorgsentrums, Gesinsorgkantore en Aannemingsdienste regoor die Vrystaat.
By Engo Gesinsorg fokus maatskaplike werkers op die beskerming van kinders en ondersteuning van gesinne volgens die Kinderwet 38 van 2005, deur voorkoming, vroeë intervensie, statutêre ingryping en nasorg.
By Kinder- en Jeugsorgsentrums ondersteun hulle kinders wat deur die hof geplaas is deur assesserings, ontwikkelingsplanne en emosionele begeleiding, terwyl aannemingsmaatskaplike werkers gesinne deur die aannemingsproses begelei.
Maatskaplike werkers verrig daagliks administrasie, konsultasie en terapeutiese werk met kinders, dikwels te midde van uitdagings soos trauma-gevalle en beperkte hulpbronne. Empatie, geduld, integriteit en ’n passie om ’n verskil te maak is kern eienskappe van hierdie beroep.
