Meer as 200 000 mense in nood het gedurende die afgelope jaar voordeel getrek uit die dienste van Engo Vrystaat, wat sy posisie as een van die grootste nie-winsorganisasies vir maatskaplike dienste in Suid-Afrika verder versterk het.
Met dienste wat regoor die Vrystaat gelewer word, ondersteun Engo kinders, gesinne, bejaardes, persone met gestremdhede, pasiënte in hospitale en kwesbare gemeenskappe deur sewe gespesialiseerde programme. Die organisasie is die grootste nie-winsorganisasie van sy soort in die Vrystaat en die tweede grootste in Suid-Afrika.
Een van die organisasie se grootste fokusareas bly kinder- en jeugsorg. Tydens die verslagjaar het Engo 897 kinders en jongmense in 32 kinderhuise versorg. Benewens veilige behuising en daaglikse versorging het verskeie van hierdie jongmense op sport-, kultuur- en leierskapsgebied uitgeblink, met sommige wat provinsiale en selfs nasionale erkenning ontvang het.
Engo se aannemingsdienste het ook hoop aan talle gesinne gebring. Altesaam 30 aannemings is gedurende die jaar gefinaliseer, waarvan vyf internasionale aannemings was. Die organisasie het verder honderde navrae oor aanneming hanteer en ondersteuning aan biologiese ouers en voornemende aanneemouers gebied.
Die versorging van ouer persone bly ‘n belangrike deel van Engo se werk. Deur 20 ouetehuise en sorgsentrums regoor die Vrystaat is 2 947 bejaardes ondersteun. Meer as 159 000 etes is gedurende die jaar voorsien aan inwoners wat van onafhanklike woon-, verswakte sorg- en demensiesorgdienste gebruik maak.
Op gemeenskapsvlak het Engo se Gesinsorgprogram ‘n beduidende impak gemaak. Vanuit tien kantore dwarsoor die provinsie het maatskaplike werkers en gemeenskapswerkers byna 90 000 mense bereik deur gemeenskapsprojekte, pleegsorgdienste en maatskaplike intervensies wat daarop gemik is om gesinne te versterk en kinders te beskerm.
Die organisasie se Hospitaalsorgprogram het voortgegaan om ondersteuning aan pasiënte en hul families in Bloemfontein se groot hospitale te bied. Gedurende die jaar is 1 773 pasiënte besoek, terwyl honderde familielede emosionele en geestelike ondersteuning ontvang het. Digitale bedieningsinisiatiewe het ook pasiënte regoor die land bereik.
Engo se dienste aan persone met gestremdhede fokus op vaardigheidsontwikkeling, sosiale rehabilitasie en die bevordering van onafhanklikheid en waardigheid. Hierdie program help deelnemers om volgens hul unieke vermoëns te ontwikkel en ten volle deel van hul gemeenskappe te wees.
Agter hierdie omvangryke dienslewering staan ‘n span van 1 077 personeellede. Om die welstand van werknemers te bevorder, het Engo gedurende die jaar verskeie welstandsprogramme en werkswinkels aangebied wat fokus op emosionele, geestelike en fisieke weerbaarheid.
“Elke kind wat beskerm word, elke gesin wat versterk word en elke bejaarde wat versorg word, is ‘n bewys van wat moontlik is wanneer gemeenskappe, skenkers, vrywilligers en personeel saamwerk,” het Engo gesê.
Die organisasie doen ‘n beroep op individue, besighede en organisasies om steeds by die werk van Engo betrokke te raak deur skenkings, vrywillige diens en vennootskappe wat help om lewens in die Vrystaat te verbeter.
Media-navrae
| Kontak | Alda Fourie |
|---|---|
| Rol | Direkteur: Bemarking en Fondsinsameling |
| Organisasie | Engo Vrystaat |
| Telefoon | 082 991 0488 |
| E-pos | alda@engo.co.za |
| Webwerf | www.engo.co.za |

