Engo se Hospitaalsorgprogram stel dit ten doel om pasiënte en hulle families te besoek en met die Woord te bedien sodat hulle (volgens Romeine 15:4) deur bemoediging uit die Skrif hoop kan hê.  Tydens besoeke aan pasiënte word daar werklik gepoog om die liefde en genade van God aan hul oor te dra ten einde so hoop te bring aan die pasiënt en hul geloof te versterk.

 

Die bedieningspan besoek pasiënte op ‘n daaglikse basis in die volgende hospitale in Bloemfontein: Mediclinic, Life Rosepark, Universitas Akademiese Hospitaal, Universitas Netcare en Nasionale Hospitaal. Pasiënte in ander gesondheidsorganisasies word ook op versoek besoek.

Hoe kan vrywilligers betrokke raak?

Die diens het ‘n behoefte aan nog geestelike werkers wat as vrywilligers betrokke kan raak.  Kontak gerus vir
Dr Hennie Maartens, die programkoördineerder by 083 388 0047.

Behoeftes vir donasies en hulp

  • Fondswerwing.
  • Geestelike versorging van mense wat deur Hospitaalsorg ondersteun word.
  • Bid vir die werksaamhede van Hospitaalsorg

 

 

Raak vandag betrokke. Stuur ‘n epos na info@engo.co.za of
skakel 060 548 5543

Provinsiale kantoor kontakbesonderhede

 Posadres: 12552, Brandhof, Bloemfontein, 9324
Straatadres: Van Heerdenweg 22, Wilgehof, Bloemfontein
Tel: 051 407 7215
Epos: rikaw@engo.co.za

Direkteur Hospitaalsorg: Mev R Wolmarans
NPO registrasie nommer: 002-671 NPO

Bolokanang Kinder- en Jeugsorgsentrum

Geskiedenis

Die Provinsiale beplanning vir die desentralisering en transformering van die kinderhuise maak voorsiening vir die vestiging van 13 gedesentraliseerde sentrums in die Motheo-streek. Daar word gevolglik na verskeie moontlikhede gekyk vir die vestiging van sentrums. Die behoefte aan sentrums vir kinders wat Sotho-sprekend is, is veral groot. Wanneer die betrokke eiendom te Bloemvallei in die mark kom, word dit gesien as 'n goeie moontlikheid. Die Kerklike Maatskaplike Dienste-kantoor soek dringend 'n heenkome vir 'n groot aantal Sotho-sprekende kinders.

Ongeveer 80 jaar gelede het 'n boer die stukkie aarde, 'n gedeelte van die plaas Diepfontein, aan die NG Kerk geskenk met die doel om daar 'n kerk vir Sotho-sprekende persone te bou. Mettertyd het die Departement van Onderwys gevra dat die kerk daar 'n skool oprig. Die NG Kerk Bloemvallei het aanvanklik net een klaskamer gebou. Dit is later uitgebrei tot 'n skooltjie met 8 klasse. Toilette is opgerig met fondse wat van die buiteland, veral Nederland, verkry is. Die skooltjie het egter mettertyd verklein tot net twee klassies. 'n Saaltjie is ook opgerig om as kerkie te dien.

Die gemeenskap bestaan uit kleinhoewes en daar is nie negatiewe maatskaplike patrone aanwesig nie. Die eerste vergadering word op 8 Februarie 2007 met die gemeenskap gehou. Daar word besluit om voort te gaan met die projek. Die kerklike en breë gemeenskap onderneem om die projek te ondersteun. Die eiendom word deur NG Welsyn, die houer-maatskappy van Bloemvallei NG Kerk aangekoop en verbou tot 'n funksionele sentrum vir 30 kinders.

'n Kompetisie is gehou om op 'n naam vir die sentrum te besluit. Mnr. Fritz Kröhn, 'n plaaslike prokureur, skenk die prysgeld van R100.00 vir die mees geskikte naam. Uitendelik word besluit op die naam Bolokanang. Dit is ingestuur deur vier kinders en beteken "om na mekaar om te sien". Die eerste kinders word gedurende April 2008 opgeneem.

Ligging 

Bolokanang Kinder- en Jeugsorgsentrum is geleë vyf en twintig kilometer buite Bloemfontein op die wal van die Modderrivier naby Maselspoort en Phillip Sanders vakansie-oorde. Dit word omring deur wildplase, olienhout- en kareebome, inheemse plantegroei en vars lug.

Kinders

Bolokanang Kinder- en Jeugsorgsentrum versorg 30 Sotho sprekende kinders, seuns en dogters. Die hoërskole in die omgewing is beperk en daarom is daar meer laerskoolkinders in die sentrum.  Op die terrein is Uitkomst skool. Die kinders stap twintig treë uit by die deur van die sentrum en dan is hulle by die skool. Die ander kinders moet aangery word na hulle onderskeie skole.

 

Carpe Diem Kinder- en Jeugsorgsentrum

Geskiedenis

Die inisiatief vir die vestiging van die Kinder- en Jeugsorgsentrum word deur die leraars van Universitas-Wes NG Kerk geneem. Ds. Petrus Kühne en Ds. Stefan Stassen ontmoet Mev Magda van Niekerk vir die eerste verkennende gesprek op 22 Mei 2003. Gedurende dieselfde maand noodsaak die verkoop van ‘n gedeelte van die eiendom van Ons Kinderhuis dit dat tydelike huisvesting vir 12 kinders van Ons Kinderhuis bekom moes word. ‘n Eiendom van Mnr. Das van Deventer te De Bruinstraat 52, Universitas-Wes word gehuur.

Ligging 

Carpe Diem is sentraal geleë te De Bruynstraat 52 in Universitas, Bloemfontein.

Kinders

Die jeugsorgsentrum is geregistreer om 12 seuns van alle ouderdomme te versorg. Die kinders is verteenwoordigend van die wit, kleurling en swart bevolkingsgroepe. Tydens 2014 het daar 'n behoefte ontstaan vir 'n huis waar slegs seuns gehuisves word. Die sentrum is toe in 'n seunshuis verander.

 

Charlotte Theron Kinder- en Jeugsorgsentrum

Geskiedenis

Charlotte Theron, eggenote van die eerste N.G. Kerk predikant van Bethlehem, het gedurende die Anglo-Boereoorlog begin om weeskinders in die pastorie te versorg.  Toe daar later te veel kinders was en hulle ‘n sinkgebou langs die pastorie moes inruim vir die 43 kinders wat hulle moes versorg, het sy op ‘n dag gesê “Iemand het vir my ‘n bok gebring en iemand het vir my ‘n sak meel gebring, nou gaan ek met die weeshuis begin.” So het die kuinderhuis sy ontstaan in 1903 gehad.

Die sentrum bestaan uit 9 wooneenhede:

  • Lentehof
  • Pikkewyn
  • Eikehof
  • Esterhof
  • Nonnashof
  • Jania
  • Dennekruin
  • Jakaranda
  • Karee

Ligging 

Charlotte Theron Kinder- en Jeugsorgsentrum is geleë te Wesselstraat 46 in Bethlehem.

Kinders

Daar is aparte wooneenhede vir seuns en dogters, sowel as twee Sotho wooneenhede. Elke wooneenheid het sy eie kinderversorger en funksioneer op sy eie – soos ‘n groot huishouding. Die sentrum versorg tans 123 sorgbehoewende kinders van alle kulture. Ouderdromme strek van 0 tot 18 jaar (of totdat ‘n kind sy skoolopleiding voltooi het).

Charlotte Theron Kinder- en Jeugsorgsentrum staan nog rotsvas met ons leuse: “Die Here sal voorsien.”

 

David's Place Kinder- en Jeugsorgsentrum

Geskiedenis

Die sentrum het ontstaan danksy die inisiatief van pastoor Craige Harvey, die leraar van die New Covenant Church en ‘n leier in die gemeenskap van Ficksburg en Meqheleng. Op daardie stadium is daar reeds informeel en sonder subsidie van die regering na ‘n klompie weeskinders gekyk. Die eerste vergadering word op 2 Februarie 2005 met die gemeenskap gehou. ‘n Bestuur word saamgestel en hou hul eerste vergadering op 23 Februarie 2005. By die geleentheid word pastoor Harvey as voorsitter verkies en Mnr. Eddie Nthinya as ondervoorsitter.

Ligging 

David’s Place Jeugsorgsenturm is geleë te De Villiersstraat 9 en is aangekoop deur NG Welsyn van dr Jack Amour en sy vrou vir R90 000.00.

Kinders

Die sentrum is geregistreer vir 12 sorgbehoewende kinders. Daar word seuns sowel as dogters in die sentrum versorg. Almal is Sotho-sprekend.

 

 

Eikelaan Kinder- en Jeugsorgsentrum

Geskiedenis

Die dinamiese gemeenskap van Bothaville vorm ‘n interkerklike multi-kulturele aksiekomitee; Bothaville Raad van Barmharigheid, wat saam met plaaslike rolspelers die behoefte vir 2 jeugsorgsentrums in onderskeidelik Bothaville (Afrikaans) en Naledi (Sotho) aangespreek het en sodoende die ontstaan van Eikelaan Kinder- en Jeugsorgsentrum en Nala re Thabile Kinder- en Jeugsorgsentrum bevestig het. Die eerste gemeenskap komiteevergadering is op 30 Mei 2002 gehou onder leiding van Ds. Johan Lessing, Ds. Simon Dlamini en Ds. Jan Els met die hulp van die maatskaplike werker van die Oranje Vrouevereniging, Mev. Lettie Ferreira.

Ligging 

‘n Woonhuis word deur NG Welsyn te Eikelaan 18 in Bothaville aangekoop. Die huis word vergroot en verander om in die behoeftes van ‘n jeugsorgsentrum te voorsien. Die huis is geleë aan die rand van die dorp in ‘n rustige residensiële gebied, Meyerhof. Die sentrum open sy deure in Januarie 2003.

Kinders

Die jeugsorgsentrum is geregistreer om 12 kinders, Afrikaanssprekend, seuns en dogters, tussen die ouderdomme van 0 en 18 jaar, te huisves.

 

 

 

Esperanza Kinder- en Jeugsorgsentrum

Geskiedenis

Die Uitvoerende Komitee van die kerkraad van Waterbron Nederduits Gereformeerde kerk onder leiding van Dr. Brand Doubell ontmoet die Direkteur van Kinder- en Jeugsorgsentrums op 4 Desember 2002.  Die gemeente het besluit om eienaarskap vir ‘n jeugsorgsentrum te aanvaar. ‘n Hoewe wat vir die doel benut kan word te Scrivenweg, Hartbees is deur NG Welsyn aangekoop.  President Steyn Skool is binne loopafstand van die sentrum. Gedurende 2005 word die aangrensende gemeente van Bainsvlei ook betrek by die projek.

Ligging 

Die sentrum is geleë op die Waterbron plotte te Srivenlaan 12, Bainsvlei in Bloemfontein en het ‘n regte plaas gevoel. Die kinders is vry om op die ruim erf te speel.

Kinders

Esperanza versorg 12 kinders, seuns en dogters, hoofsaaklik Afrikaans sprekende kinders. Die kinders is verteenwoordigend van blanke, bruin en swart bevolkingsgroep.  Daar is ook met tye ‘n baba in die sentrum.

 

 

Gardenia Kinder- en Jeugsorgsentrum

Geskiedenis

Gardenia Jeugsorgsentrum het ontstaan na aanleiding van die inisiatief, motivering en deursettingsvermoë van een persoon, naamlik Mev. Ansa Coetzee.  Sy skakel vir die eerste keer met die personeel van Hoofbestuur op 30 Junie 2003.  Die eerste vergadering van ‘n aksiekomitee word op 13 Oktober 2003 gehou.  By die geleentheid word Mnr. Henk van Zyl as voorsitter verkies.

Die Nederduits Gereformeerde gemeentes van Gardenia, Hertzogville en Soutpan aanvaar eienaarskap vir die sentrum. ‘n Eiendom word te Nerinastraat 68, Gardeniapark aangekoop deur NG Welsyn.  Dit word verbreek en vergroot om in die behoeftes van ‘n jeugsorgsentrum te voorsien.  Die sentrum staan later in die spreektaal bekend as “Huis Nerina”.

Ligging 

Gardenia Kinder- en Jeugsorgsentrum is sentraal geleë te Nerinastraat 68, Gardeniapark in Bloemfontein. Die leuse van die sentrum is:  God met ons.

Kinders

Die huis versorg 12 kinders, seuns en dogters van alle ouderdomme en ras. Die kinders is tans verteenwoordigend van die blanke en bruin bevolkingsgroepe. Hulle woon verskillende skole in die gemeenskap by, wat wissel van hoofstroom onderwys tot spesiale onderwys.

 

 

Gedenk Kinder- en Jeugsorgsentrum

Geskiedenis

Ds. Marquard het na afloop van die Anglo Boere-oorlog bewus geraak van die nood van die groot aantal weeskinders op die plase in die Ladybrand-omgewing.  ‘n Weeshuis is op Ladybrand opgerig ter nagedagtenis aan al die vrouens en kinders wat gedurende die oorlog gesterf het, vandaar die naam “Gedenk”.  Die stigtersdatum van die weeshuis was in 1904. Die kinders is toe in groot groepe (25 kinders) van ongeveer dieselfde ouderdom en geslag deur ‘n matrone versorg.  In totaal is daar 155 kinders in die weeshuis versorg.

Die tweede fase in die ontwikkeling van fasiliteite vir kinders gedurende die sestigerjare was die daarstelling van kinderhuise.  Mettertyd was die inwoners van die weeshuise nie meer weeskinders nie, maar kinders wat ‘n behoefte aan sorg gehad het omrede hulle ouers nie in daardie behoefte kon voorsien nie.  Die meeste van die kinders in Gedenk Kinderhuis was nie van Ladybrand afkomstig nie.  Baie van die kinders was van die Rand afkomstig.  Minder as 10 kinders was van die onmiddellike omgewing afkomstig.

Die Bestuur van Gedenk Kinderhuis vergader op 12 Junie 2001.  Tydens die geleentheid word daar besluit om die diens in die huidige formaat so gou as moontlik te staak.  Die inwoners en kinderversorgers word oorgeplaas na gedesentraliseerde jeugsorgsentrums soos die proses vorder.  Gedurende 2002 word die sentrum verklein tot drie wooneenhede en vanaf 2003 tot een wooneenheid waarin 12 – 16 kinders versorg kan word. Die bestaande kinderhuis word verkoop en die fondse gestort in ‘n fonds vir die voortsetting van die diens en die proses van desentralisering. Die dienste van een van die kinderversorgers, Mev. Annatjie Stahmer, word behou vir die gedesentraliseerde sentrum.  Een van die wooneenhede van die “ou” kinderhuis word opgradeer as ‘n gedesentraliseerde jeugsorgsentrum.  Daar word besluit om die naam “Gedenk” te behou.  ‘n Nuwe bestuur word saamgestel uit plaaslike persone.  Daar is veral een bestuurslid, Mnr. Rassie van der Westhuizen, wat die voorsitter van die finansiële komitee is en wat deurlopend met toewyding sy tyd, fondse en kundigheid tot die beskikking van die sentrum stel.

Die “nuwe” gedesentraliseerde sentrum word 31 Maart 2003 in terme van artikel 30 van die Wet op Kindersorg as ‘n kinderhuis geregistreer.

Ligging 

Gedenk Jeugsorgsentrum is geleë te Collinstraat 1 in Ladybrand.

Kinders

Die Jeugsorgsentrum is geregistreer om 12 kinders te versorg.  Tans word daar 6 dogters en 6 seuns in die Jeugsorgsentrum versorg.   Kinders is van bruin en Se-Sotho bevolkingsgroep.  Hulle woon verskillende skole in die gemeenskap by.  Dit wissel van gewone stroom onderwys tot spesiale onderwys.

 

 

Gladstoneweg Kinder- en Jeugsorgsentrum

Geskiedenis

Die Jeugsorgsentrum is ‘n projek van die Ring van Berg en Dal.  Dit bestaan uit vier Nederduits Gereformeerde gemeentes; Berg en Dal, De Bloem, Bloemfontein-Noord en Hugenote. Die voorsitter van die Kindersorgkomitee se man is ‘n argitek en het ‘n leidende rol gespeel in die planne en finalisering van die Jeugsorgsentrum se geboue. Die Jeugsorgsentrum het hul sentrum betrek Desember 2004.

Ligging 

Gladstoneweg Kinder- en Jeugsorgsentrum is geleë in die Noorde van Bloemfontein te Gladstoneweg 65 in Bayswater.

Kinders

Die Jeugsorgsentrum is geregistreer om 12 kinders, 6 seuns en 6 dogters te versorg. Die kinders is verteenwoordigend van die blanke, kleurling en swart bevolkingsgroepe.

 

 

Huis Amor

Geskiedenis

Huis Amor het ontwikkel vanuit die oorspronklike huis vir ongehude moeders, genaamd Susanna Coetzee Huis.  Hierdie oorspronklike huis is daargestel om vroue wat, na die Anglo-Boere-oorlog geen huisvesting gehad het nie en vroue wat uit die tronk vrygelaat is, te huisves en te versorg.  In 1909 is daar ‘n reddingshuis gestig te Reitzstraat 13, Bloemfontein, wat onderhou is deur Christene vanuit die gemeenskap. In 1966 is die dienste oorgeneem deur die Sinodale Kommissie van die Nederduits Gereformeerde Kerk waar ongehude moeders versorg is.  In 1970 is ‘n groter gebou opgerig te Van Heerdenstraat 20, Bloemfontein, met die doel om 24 ongehude moeders te kan huisves.  Vanaf 1970 – 2002 is 1300 moeders gehelp in die Susanna Coetzee Huis, maar met die veranderde wetgewing rakende aborsies, het die behoefte aan hierdie diens verminder.  In 2003 het die bestuur besef dat die behoefte aan die huis nie groot genoeg is om slegs ongehude moeders te help nie en die NG Kerk, Langenhovenpark, is genader om die verantwoordelikheid van die sentrum oor te neem.  Die sentrum sou dan sorgbehoewende meisies sowel as meisies wat ‘n krisis-swangerskap ervaar, huisves.  Die huis is geskuif na Faurelaan 12 A in Wilgehof en die naam het later verander na Huis Amor.

Ligging 

Huis Amor is geleë te Faurelaan 12 A in Wilgehof, Bloemfontein.

Kinders

Amor Jeugsorgsentrum is geregistreer om 10 dogters en 2 swanger dogters te huisves van verskillende kultuurgroepe. Gewoonlik word ‘n swanger dogter wat ‘n krisis rondom die swangerskap beleef, twee maande voor sy kraam in die sentrum opgeneem. Dáár sal sy dan die nodige sorg en ondersteuning ontvang. Sy ontvang ook spesiale leiding, sodat ‘n ingeligte besluit oor die toekoms van die baba geneem kan word.

Huis van Omgee Kinder- en Jeugsorgsentrum

Geskiedenis

Gedurende  2006 het die Maatskaplike Werker van Kerklike Maatskaplike Diens (KMD) verantwoordelik vir die Bainsvlei omgewing bewus geword van die groot getal kinders in die gemeenskap wat deur HIV/VIGS geraak word. Die NG Kerk in Waterbron en Universitas het besluit om ‘n diens te lewer saam met ander rolspelers vir die weeskinders, slagoffers van familie geweld en verkragting.

Na twee jaar is die program ontwikkel na huissorg, ‘n groentetuin projek, sopkombuis en die versorging van 34 kinders. Die gebou is gehuur by die Munisipale kliniek by Bainsvlei.  Die gebou is gerestoureer en vergroot en in ‘n kinderhuis omskep.  Die Nederduitse Hervormende Kerk het fondse voorsien vir die doel. Die twee gemeentes van die ring het ook die nodige meubels en toerusting voorsien.

Die bestuur van KMD Bloemfontein het tydens ‘n vergadering wat gehou is op 25 Mei 2009 besluit dat die fasiliteit ontwikkel moet word in ‘n Kinder- en Jeugsorg Sentrum. Die kinders in die sentrum is verminder na 24.  Die afgelope jaar het die infrastruktuur agteruitgegaan en daar is begin soek na ‘n alternatiewe opsie. In 2019 het Deo Juvante Jeugsorgsentrum toegemaak nadat dit nie meer volhoubaar was nie.  Die gebou is gerestoureer en verander om die 24 Kinders van Huis van Omgee te akkommodeer.  In Mei 2020 het die sentrum verhuis na die nuwe perseel.  Die kinders het meer spasie en is baie trots op hulle nuwe woning.

Ligging 

Die adres van die sentrum is Faurelaan 4, Willows te Bloemfontein.

Kinders

Die Jeugsorgsentrum is geregistreer om 24 kinders,  12 dogters en 12 seuns te versorg. Die sentrum voorsien in die basiese behoeftes van hierdie kinders. Die kinders is verteenwoordigend van die bruin en swart bevolkingsgroep. Hulle woon verskillende skole in die gemeenskap by.

 

 

Lefika Kinder- en Jeugsorgsentrum

Geskiedenis

Gedurende Augustus 2002 kontak die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling die Hoofbestuur van Vrystaat Jeugsorgsentrums in verband met die moontlike vestiging van ‘n gedesentraliseerde sentrum in die QwaQwa omgewing.

Op 1 Augustus 2003 kontak Dr. Gideon van der Walt en Ds. Dries van der Merwe van die Verenigde Gereformeerde Kerk, die Jeugsorgsentrum namens die gemeente te Witsieshoek om samewerking te vra met die vestiging van ‘n jeugsorgsentrum. Die gemeente beskik oor ‘n ou pastorie, wat blyk ‘n geskikte gebou te wees.

Op 21 Augustus 2003 word ‘n inligtingsvergadering met die gemeenskap gehou. Lefika Jeugsorgsentrum word op 2 September 2003 geregistreer as ‘n kinderhuis in terme van Artikel 30 van die Wet op Kindersorg. Ds. Dries van der Merwe word verkies as voorsitter en Mnr. Kokoi as onder-voorsitter. Die sentrum is geleë teen ‘n berg in die Mabolela omgewing by Witsieshoek. Die naam Lefika beteken “berg”.

Verhuising na Kestell

Op 19 Mei 2014 het die beheerraad ontbind en nuwe beheerraad van Kestell gemeenskap aangewys aangesien die Jeugsorgsentrum verhuis vanaf QwaQwa na Kestell.

Huis is aangekoop in Kestell en nodige bouwerk is gedoen om te voldoen aan die vereistes van die Jeugsorgsentrum.  Redes vir verskuiwing:  Ds Dries van der Merwe, voorsitter het verhuis na die Kaap en op daardie stadium was die finansiële omstandighede van Lefika kommerwekkend.  Die ander aktiewe beheerrade wat gehelp het was meestal van Kestell.  Terseldertyd was die vervoerkoste van die kinders daagliks na Retief Hoërskool in Kestell ook ‘n oorwegingsrede.  Lefika Kinder- en Jeugsorgsentrum se skuif na Kestell het baie positiewe gevolge, onder andere Retief Hoërskool se groot betrokkenheid en ondersteuning by die bestuur van die sentrum.

Ligging 

Lefika Jeugsorgsentrum is geleë te Cilliersstraat 28 in Kestell.

Kinders

Die sentrum bied versorging aan 12 sorgbehoewende  kinders. Die inwoners bestaan uit seuns en dogters wat almal Sotho-sprekend is en hul ouderdomme wissel tussen 3 en 17 jaar.

 

 

Letsemeng Kinder- en Jeugsorgsentrum

Geskiedenis

‘n Opname gedurende 2002 toon dat daar 52 kinders vanaf die Xhariepstreek in die kinderhuise in Bloemfontein, Winburg en Bethlehem is.  Daar word besluit om die moontlikheid te ondersoek om ‘n sentrum in Koffiefontein te vestig omdat die dorp oor verskillende skole en die nodige infra-struktuur beskik.  Daar word Maart 2002 drie vergaderings met die gemeenskap en verskillende vergaderings met ander rolspelers soos De Beers Central Mines, die Nederduits Gereformeerde Kerk, Letsemeng Munisipaliteit en die plaaslike skole gehou.  Op 9 September 2002 ontvang NG Welsyn kennis dat De Beers se Koffiefontein diamantmyn, ‘n huis op ‘n hoewe genaamd “The Park” skenk om te ontwikkel as ‘n jeugsorgsentrum.  Die eiendom is voorheen deur die bestuurder van die myn bewoon.

Ligging 

Die sentrum is geleë aan die rand van die dorp op ‘n baie groot erf langs die rivier, vandaar die naam “The Park”.  Die adres is “The Park”, Edwardweg te Koffiefontein.

Kinders

Die Jeugsorgsentrum is geregistreer om 24 kinders te versorg. Die kinders is verteenwoordigend van die bruin en swart bevolkingsgroepe. Hulle woon verskillende skole in die gemeenskap by. Al die kinders is skoolgaande ouderdom en die meeste is jong tieners.

 

 

Maanblom Kinder- en Jeugsorgsentrum

Geskiedenis

Die vestiging van Maanblom Kinder- en Jeugsorgsentrum is op 27 Augustus 2002 op ‘n vergadering bespreek. Daar was 26 kinders van hierdie omgewing in die kinderhuis te Winburg. Dit was die groot motivering vir die desentralisering. Betrokke persone by die kinders, moes na Winburg ry om hulle te besoek asook die gemeenskap vir die gee van donasies. Hennenman en Virginia se gemeenskappe het saam besluit oor die vestiging en bestuur van die sentrum. Hulle het besluit op Virginia omdat daar ‘n beroepsgerigte skool is. Die eerste bestuurvergadering het op 17 September 2002 plaasgevind. By die geleentheid is mnr. Oscar van Wyk as die voorsitter verkies. Die meubels vir Maanblom het van Winburg Kinderhuis gekom. Die vrouens op die bestuur het baie hard gewerk om die sentrum te meubileer en toe te rus sodat dit in ‘n huislike omgewing omskep kan word. Daar sal altyd met groot dankbaarheid aan almal teruggedink word.

Ligging 

Maanblom Kinder- en Jeugsorgsentrum is geleë te Maanblomstraat 10 in Virginia, die naam van die sentrum is ook ‘n aanduiding van die adres.

Kinders

Die sentrum is geregistreer om 12 kinders te versorg wat deur die Kinderhof daar geplaas is weens verskillende redes, daar is ook weeskinders in die sentrum.  Daar is besluit dat die sentrum ‘n seunshuis sal word in plaas van beide geslagte. Die taal wat in die sentrum gepraat word, is Engels en Afrikaans. Die samestelling van die kinders in Maanblom wissel omdat ons in die behoefte van die Virginia, Hennenman, Welkom en Bronville gemeenskappe voorsien. Kinders word weer uitgeplaas by ouers, pleegouers en familie sodra ons seker daarvan is dat dit in hulle beste belang is. Ons het selde vakatures omdat die nood so groot is en nuwe kinders gou weer opgeneem word.

 

 

Marquard Kinder- en Jeugsorgsentrum

Geskiedenis

Die eerste ses inwoners het op Vrydag 15 Augustus 2008 na die nuwe Marquard Kinder- en Jeugsorgsentrum verhuis. Hierdie sentrum is die 32ste gedesentraliseerde sentrum (kinderhuis) van Vrystaatse Jeugsorgsentrums. Die sentrum versorg behoeftige kinders uit die gemeenskappe van Marquard en Moemaneng. Die gebou is geskenk deur die Christenbediening en is opgeknap met fondse van die Christenbediening, NG Welsyn en die gemeenskap. Donasies van meubels en toerusting kom van verskeie kerke, gemeenskapsgroepe, die Volksblad Kersfonds en individue.

Ligging 

Marquard Jeugsorgsentrum is geleë in Jakob Makoelle straat 9, Marquard.

Kinders

Die sentrum is geregistreer vir die versorging van 16 Sotho-kinders, seuns en dogters, van kleuter tot tiener. Die sentrum voorsien in die fisieke en opvoedkundige behoeftes van die kinders, asook in hul terapeutiese en mediese sorg.

 

 

Merafong Kinder- en Jeugsorgsentrum

Geskiedenis

Die groeiende behoefte na ‘n veilige blyplek vir kinders in nood, het die ontstaan van Merafong Kinder- en Jeugsorgsentrum verseker. Die Getuieniskommissie van die NG Kerk het die huis in Hyslopstraat, Welkom, die eertydse pastorie van dr. Lourens Erasmus, beskikbaar gestel vir Merafong Kinder- en Jeugsorgsentrum. Die gemeente van Merafong Wespark het op 16 Maart 2008 die verantwoordelikheid vir die projek aanvaar met die ondersteuning van lidmate van die kerk. Die aangrensende NG Kerk, Welkom-Wes beloof ondersteuning. Die eerste vergadering met die gemeenskap word op 17 November 2008 gehou. Merafong kan 12 Sotho sprekende seuns huisves. Die eerste 6 seuns het in April 2009 ingetrek.

Die sentrum se embleem is ‘n mynskag. Welkom is bekend vir sy goudmyne. Die naam “Merafong” beteken “Plek van Goud”. Elke kind is so kosbaar soos goud en dit is wat die kinders geleer word – hulle is belangrik en waardevol. Die sentrum is ruim en vertoon netjies met ‘n goedversorgde tuin.

Ligging 

Merafong Kinder- en Jeugsorgsentrum is geleë te Hyslopstraat 3, Seemeeupark in Welkom.  Die Leuse van die sentrum is: Romeine 8:31 “God is vir ons, wie kan dan teen ons wees.”

Kinders

Merafong is geregistreer om 12 Sesotho seuns van 0 tot 18 jaar te huisves.

Die kinders woon elke Sondag die diens by van die NGKA Reitzpark. Hulle gaan ook na die Sondagskool en belydenisklasse en die Jeugklub van die kerk. Hulle leer goeie Christelike waardes wat hulle help om wyse besluite te neem. Ds. Pheko (die voorsitter, asook afgetrede leraar) besoek ook die sentrum een keer per week.

 

 

Nala Re Thabile Kinder- en Jeugsorgsentrum

Geskiedenis

Die dinamiese gemeenskap van Bothaville vorm ‘n interkerklike multi-kulturele aksiekomitee; Bothaville Raad van Barmharigheid, wat saam met plaaslike rolspelers die behoefte vir 2 jeugsorgsentrums in onderskeidelik Bothaville (Afrikaans) en Naledi (Sotho) aangespreek het. Sodoende ontstaan Eikelaan Kinder- en Jeugsorgsentrum in 2003 en Nala re Thabile Kinder- en Jeugsorgsentrum in 2006. Die eerste gemeenskapkomiteevergadering is op 30 Mei 2002 gehou onder leiding van Ds. Johan Lessing, Ds. Simon Dlamini en Ds. Jan Els met die hulp van die maatskaplike werker van die Oranje Vrouevereniging, Mev. Lettie Ferreira.

NG Welsyn het op 10 Februarie 2005 met die aankoop van ‘n perseel by New Holland begin. Die kantoorgeboue op die terrein word met min onkoste omskep in ‘n jeugsorgsentrum. Daar is ook ‘n boorgat op die perseel. Die eiendom word onderverdeel en ook hersoneer sodat die jeusorgsentrum steeds ‘n ruim, maar hanteerbare terrein het. Die kantoorkompleks word omskep in ‘n spog jeugsorgsentrum. ‘n Bedrag van R651 601 word bestee aan die verandering. Ds. Hennie Hattingh word verkies as die eerste voorsitter en Ds. Simon Dlamini as ondervoorsitter tydens die eerste vergadering wat op 24 November 2005 saam met die gemeenskap gehou word. Die sentrum open amptelik in Junie 2006. Die naam Nala re Thabile beteken – “dat ons bly is”.

Ligging 

Nala re Thabile Jeugsorgsentrum is geleë te 12 7de Laan, Industriële Gebied, Bothaville.

Kinders

Die sentrum sien om na kinders van (het ook al 2 babas/ kleuters gehad) pre-primêre skool tot hoërskool. Van die inwoners is chronies siek, maar kan normaal funksioneer met die nodige chroniese medikasie, gebalanseerde leefstyl en gereelde mediese ondersoeke. Die meeste kinders het uitgebreide families by wie hulle vakansies kan gaan kuier.

Die Jeugsorgsentrum was aanvanklik geregistreer om 16 kinders (8 seuns en 8 dogters), tussen die ouderdomme van 0 – 18 jaar te versorg. Op 1 April 2009 word hierdie getal verhoog na 24 kinders. Met die ondersteuning van die gemeenskap is die geregistreerde getal weer in September 2019 aangepas en tans word omgesien na 30 kinders tussen die ouderdomme van 0- 18 jaar (15 seuns en 15 dogters). ‘n Groot aantal van die kinders is afkomstig vanuit Bothaville, en die res is afkomstig vanuit naby geleë dorpe in die Vrystaat.

 

 

Ons Kinder- en Jeugsorgsentrum

Geskiedenis

Gedurende ‘n Nederduits Gereformeerde kerkvergadering in April 1914 het Ds. Kestell voorgestel dat daar ‘n tehuis vir verwaarloosde kinders gestig word. ‘n Huis is in Victoriaweg gehuur en ses kinders is gehuisves.  Ons Kinder- en Jeugsorgsentrum beter bekend as Ons Kinderhuis is amptelik op 11 September dieselfde jaar geopen.

Ligging 

Ons Kinder- en Jeugsorgsentrum is geleë te Victoriaweg 46 in Bloemfontein.

Die sentrum bestaan uit 8 wooneenhede:

  • Vastrap
  • Welverdiend
  • Dagbreek
  • Lentedou
  • Blydskap
  • Doephuis
  • Môredou
  • Vredehoek

Kinders

Ons Kinder- en Jeugsorgsentrum versorg tans 122 sorgbehoewende kinders van alle kulture. Ouderdomme strek van 0 tot 18 jaar (of totdat ‘n kind sy skoolopleiding voltooi het).

Daar is 4 wooneenhede vir seuns en 4 vir dogters. Die wooneenhede word volgens ouderdom-groepe ingedeel. Elke wooneenheid het sy eie kinderversorger en funksioneer op sy eie – soos ‘n groot huishouding. Daar is 16 kinders van Ons Kinderhuis in Amari skool in Welkom wat by die skool se koshuis inwoon.

ONS VISIE

Ons wil ons kinders hoop gee vir hul toekoms.

ONS MISSIE

Die doel van die sentrum is om die volgende te bied:

Beskermings-, versorgings-, opvoedings-, ontwikkelings- en behandelings-programme vanuit 'n Christelike perspektief, vir soveel as moontlik kinders in die Vrystaat wat veiligheid, beskerming of veilige toesig benodig op 'n koste-effektiewe en finansieel gesonde basis.

 

 

Presidentia Kinder- en Jeugsorgsentrum

Geskiedenis

Die Ringskommissie vir die Diens van Barmhartigheid in Kroonstad het op 20 Julie 2004 vergader met die doel om die vestiging van ‘n jeugsorgsentrum in die dorp te ondersoek. Tydens die byeenkoms neem die lede kennis daarvan dat daar:

1) meer as 50 kinders van Kroonstad in die kinderhuise te Bethlehem en Bloemfontein is; en

2) reeds begin is met ‘n proses van desentralisering en transformasie van die kinderhuise na kleiner Kinder- en Jeugsorgsentrums.

Die Nederduits Gereformeerde Kerke besluit om eienaarskap te aanvaar vir ‘n jeugsorgsentrum te Kroonstad. ‘n Geskikte eiendom te Maraisstraat 89, Presidentia, Kroonstad word deur NG Welsyn vanaf Mnr. Spahmer aangekoop. Die eiendom word vergroot en verander ten einde in die behoeftes te voorsien.

Die eerste voorsitter van die bestuur was Ds. Barry Fourie en die onder- voorsitter was  Mnr. Christo Barnard. Mnr. Wynand Smit speel deurgaans ‘n sleutelrol as voorsitter van die Finansiële Komitee en Mev. Tillie Fourie as voorsitter van die Kindersorgkomitee.

Daar word op 17 Augustus 2005 aansoek gedoen om Presidentia Jeugsorgsentrum te registreer as ‘n Kinderhuis in terme van Art. 30 van die Wet op Kindersorg.

Ligging 

Presidentia Jeugsorgsentrum is geleë te Maraisstraat 89 in Kroonstad.

Kinders

Die sentrum is geregistreer om  12 kinders, 6 seuns en 6 dogters te akkommodeer. Kinders word deur die Kinderhof in die sorg van die sentrum geplaas. Kinders kom uit verskillende kulturele agtergronde en hulle ouderdomme wissel van 1 jaar oud tot 18 jaar.

 

 

Ringerstraat Kinder- en Jeugsorgsentrum

Geskiedenis

Ringerstraat Jeugsorgsentrum is ‘n gemeenskapsprojek waarby al die rolspelers in die gemeenskap betrokke is. Mev. Cecile Krause wat bewus geword het van die nood van die plaaslike kinders by ‘n voedingsprojek van die NG Kerk, het inisiatief geneem met die vestiging van ‘n jeugsorgsentrum. Mev. Magda van Niekerk, die vorige Direkteur van die Jeugsorgsentrums, hou die eerste vergadering met die gemeenskap op 20 Januarie 2004. Mnr. Christo Krause word as die eerste voorsitter verkies. Die huis op die hoek van Ringer- en Kerkstraat word deur NG Welsyn aangekoop. Daar word gebou en gebreek om die huis geskik te maak as ‘n jeugsorgsentrum. Die sentrum open op 10 Januarie 2005.

Ligging 

Ringerstraat Kinder- en Jeugsorgsentrum se adres is Ringerstraat 40 in Heilbron.

Kinders

Die sentrum huisves tans 12 Sotho sprekende kinders vanuit die gemeenskap en omliggende dorpe. Die ouderdomme van die kinders wissel van baba tot 18 jaar.

 

 

Sasolburg Kinder- en Jeugsorgsentrum

Geskiedenis

Die gemeenskap van Sasolburg het vir baie jare bygedra tot Gedenk Kinderhuis te Ladybrand. Daar word gedurende 2001 besluit om Gedenk Kinderhuis te desentraliseer. Daar is toe ongeveer 30 kinders van Sasolburg in Gedenk Kinderhuis.

Op 13 Augustus 2001 word die eerste twee gemeenskaps-vergaderings in die saal van die Gemeenskapskas te Sasolburg gehou. Hierdie vergaderings word deur ‘n groot aantal persone bygewoon, onder andere Martie en Hennie Wagener wat by Gedenk Kinderhuis betrokke was.

Mnr. Don Esplin word as voorsitter verkies, Ds. Hans van Deventer as onder-voorsitter. Daar word besluit om twee wooneenhede te vestig sodat daar in totaal aan 24 kinders versorging gebied word. Twee woonhuise te Vlaardingenstraat 22 en Hans van Rensburgstraat word aangekoop. Dit word vergroot en verbou om te voorsien in die behoeftes van 12 kinders elk. Die meubels word van Gedenk Kinderhuis bekom. Die eerste maatskaplike werker wat aangestel word is Mev. Wilna Hansen en die eerste twee kinderversorgers is Mevv. Fienie Pienaar en Annette van der Walt. Die eerste 24 kinders wat opgeneem is, is almal oorspronklik van Sasolburg en omgewing afkomstig. Die sentrums funksioneer vanaf 14 Januarie 2002. Die bestuur besluit om Mev. Ansie Venter as skakelbeampte aan te stel. Sasolburg Kinder- en Jeugsorgsentrums was van die eerste gedesentraliseerde huise wat in 2002 in die Vrystaat geopen is.

Ligging 

Die Seunshuis is geleë te Vlaardingenstraat 22 in Sasolburg en die Dogtershuis te Hans van Rensburgstraat 31 in Sasolburg.

Kinders

Sasolburg Kinder- en Jeugsorgsentrum bestaan uit twee wooneenhede en versorg onderskeidelik 12 seuns en 12 dogters. Die kinders se ouderdomme wissel van babas tot 18 jariges. Kinders van verskillende kulturele agtergronde word in die sentrums versorg.

 

 

Senekal Kinder- en Jeugsorgsentrum

Geskiedenis

Die Lindley Ring van die Ned Geref Kerke besluit gedurende 2001 om ‘n gedesentraliseerde jeugsorgsentrum in die Ring te vestig. Die Ring was voorheen betrokke by Gedenk Jeugsorgsentrum te Ladybrand. NGMD het toe begin met die proses van desentralisering en transformering.

Daar word besluit op Senekal omdat dit die dorp in die ring is wat oor die beste infra-struktuur en die meeste hulpbronne beskik. Die eerste vergadering van die aksiekomitee word op 10 Oktober 2001 gehou. By die geleentheid word Ds. Otto Lessing van die NG Kerk Senekal-Noord verkies as voorsitter en moruti Michael Mackane van die NGKA as onder-voorsitter.

Daar word na verskillende eiendomme gekyk voordat besluit word om De Villiersstraat 34 van ‘n prokureur aan te koop. Die meeste van die meubels waarmee die sentrum toegerus word, word van Gedenk Kinderhuis bekom.

Ligging 

Senekal Jeugsorgsentrum is geleë te De Villiersstraat 34 in Senekal.

Kinders

Die sentrum bied versorging aan 12 kinders, van enige ouderdom, geslag, taal en kultuur. Die meeste kinders is afkomstig uit die plaaslike gemeenskap en die sentrum doen moeite om die ouers te betrek by hul kinders se versorging en ontwikkeling.

 

 

Thusano Kinder- en Jeugsorgsentrum

Geskiedenis

Thusano beteken ONS WERK SAAM en dit is wat in 1999 gebeur het. Daar was baie kinders wat in die strate rondgeloop het, duidelik verwaarloos en nie in die skool nie. ‘n Komitee is gestig en wat daarna gebeur het is naby aan ‘n wonderwerk. Die hele gemeenskap het saamgestaan. Omtrent 50 kinders het ‘n maaltyd by die sentrum gekry en is gehelp om skool by te woon. Die munisipaliteit het 'n gebou geskenk in Masilo, Theunissen. Dit is omskep in ‘n huis waar die kinders kon bly en ander het gedurende die dag gekom om te eet en te studeer.

Op 5 Junie 2002 is Thusano opgeneem as jeugsorgsentrum van die Vrystaat Jeugsorgsentrums se desentraliseringsprojek en is geregistreer om 15 kinders te akkommodeer.

Ligging 

Thusano Jeugsorgsentrum is geleë 1171 Mosilo in Theunissen.

Kinders

Die Jeugsorgsentrum is geregistreer om 15 kinders te versorg. Die kinders is verteenwoordigend van die Sotho-bevolkingsgroep. Die kinders woon die omliggende skole by en kerkdienste by Grace Miracle Church.

 

 

Tshepang Kinder- en Jeugsorgsentrum

Geskiedenis

Daar was ‘n Hospice in die omgewing vir mense met HIV/VIGS.  Soms het die sterwende mense hulle kinders saamgebring.  Die kinders is dan wees gelaat by die hospice. Die behoefte het ontstaan vir ‘n aparte plek wat die kinders kon huisves en versorg.  Twee dokters het in die omgewing ‘n huis gekoop en dit beskikbaar gestel as ‘n plek van veiligheid vir die weeskinders.  Gedurende 2010 het Engo by die huis betrokke geraak en die proses begin om Tshepang te registreer as ‘n jeugsorgsentrum.

Ligging 

Die sentrum is geleë in op die Ferreira plotte net buite Bloemfontein langs die treinspoor. Die adres is Plot 5, Ds Kotze straat, Ferreira te Bloemfontein.

Kinders

Die Jeugsorgsentrum is geregistreer om 12 kinders te versorg. Die sentrum voorsien in die basiese behoeftes van hierdie kinders. Die kinders is verteenwoordigend van die swart bevolkingsgroepe en is feitlik almal wees gelaat. Die meeste kinders is tieners, maar daar is gewoontlik ook een baba in die sentrum.

 

 

Viljoenskroon Kinder- en Jeugsorgsentrum

Geskiedenis

Daar word op 20 September 2001 ‘n gemeenskapsvergadering op Viljoenskroon gehou ten einde te besin oor die moontlike vestiging van ‘n Kinder- en Jeugsorgsentrum op die dorp. Mev. Lizanne Wilken, die maatskaplike werker van KMD en voorheen van Winburg Kinderhuis het die vergadering se reëlings getref.

Op 23 Oktober 2001 word die eerste Bestuursvergadering gehou en die sentrum ontstaan as gevolg van die proses van desentralisering. Die woonhuis van mev. Crous, ‘n weduwee te Retiefstraat 49 word deur NG Welsyn aangekoop. Die huis is ruim en daar word aanvanklik weinig veranderinge aangebring. Die sentrum word toegerus met meubels vanaf Gedenk Kinderhuis op Ladybrand.

In 2006 bewillig NG Welsyn geld om verbeteringe aan die huis aan te bring en word daar ‘n dogtersvleuel, sitkamer en ‘n kantoor vir die maatskaplike werker aangebou.

Ligging 

Viljoenskroon Jeugsorgsentrum is geleë te Piet Retiefstraat 49 in Viljoenskroon.

Kinders

Die sentrum kan 12 kinders - 6 seuns en 6 dogters akkommodeer. Die kinders se ouderdomme wissel vanaf baba tot en met tienerjare.

 

 

Vrede Kinder- en Jeugsorgsentrum

Geskiedenis

Ds. Kotie Marais, leraar van Vrede-Wes Ned Geref Kerk en sy vrou was huisouers by Gedenk Kinderhuis te Ladybrand. Toe daar begin is met die proses van desentralisering en transformering van die groot kinderhuise, het hy geroepe gevoel om in die lig van hul ervaring, die leiding te neem met die proses in Vrede.

‘n Besoek word op 8 Maart 2002 aan die gemeenskap gebring. Die eerste Bestuursvergadering word op 9 April 2002 gehou. By die geleentheid word Ds. Kotie Marais as Voorsitter verkies en Mnr. Piet Steyn as ondervoorsitter. Die Jeugsorgsentrum open gedurende Junie 2002.

Ligging 

Vrede Jeugsorgsentrum is geleë te Kühnstraat 100 in Vrede.  

Kinders

Vrede Jeugsorgsentrum is geregistreer vir die versorging van 12 seuns en dogters, Afrikaanssprekend, tussen die ouderdom van 0 en 18 jaar. 

 

 

Welkom Kinder- en Jeugsorgsentrum

Geskiedenis

‘n Gebou is in 2001 deur die Gold Fields Myngroep aan NG Welsyn geskenk vir die vestiging van ‘n kinder- en jeugsorgsentrum te Othellostraat 13 en 15. Dit is geleë op die grens van Bedelia en St Helena woonbuurt in Welkom. Die bestuur en personeel van Winburg Kinderhuis is aanvanklik baie nou betrokke by die projek. ‘n Behoeftebepaling het aan die lig gebring dat daar op daardie stadium 57 kinders van die Goudveld in die kinderhuis van Winburg versorg was. Twee jeugsorgsentrums open in Riebeeckstad woonbuurt en van hierdie bestuurslede, veral advokaat Oberholzer, verleen hulp met die vestiging van ‘n bestuur en komitees by Welkom Jeugsorgsentrum. Die Ring van die Nederduits Gereformeerde Kerk van Welkom onderneem ook om ondersteuning te bied. Tydens die Ringsitting wat op 6 Mei 2003 gehou is, besluit die Ring soos volg: Die Ring besluit om deel te word van die Kinder- en Jeugsorgsentrum-projek as deel van ‘n gemeenskapsprojek. Die volgende NGK lidmate sal as lede van die bestuur dien: Mevv. M. Delport, G. Haylett, B. Mostert en ‘n verteenwoordiger van die NG Kerk St. Helena wat deur die kerkraad van die betrokke gemeente aangewys sal word. Ds. Scholtz word toe deur die gemeente aangewys. Die amptelike opening van die sentrum vind plaas op 1 Mei 2004.

Die oorspronklike gebou word verbreek en opgradeer. Daar word veral fondse spandeer aan die aanbouing van ‘n groot woonvertrek vir die kinders en ‘n aangename woonstel vir die huisouers. Hierdie fondse word vanaf Winburg Kinderhuis bekom. Die Winburg Kinderhuis voorsien die eerste meubels. Die gemeenskap maak ook groot finansiële bydraes. Clear Water Pools skenk ‘n swembad tot groot vreugde van die kinders. Nedbank skenk beddens en verskeie besighede soos die casino, maak bydraes.

Ligging 

Welkom Jeugsorgsentrum is geleë te 13 & 15 Othelloweg in St. Helena, Welkom.

Kinders

Welkom Jeugsorgsentrum is geregistreer vir die versorging van 12 kinders. Die sentrum het altyd twee babas in plek van veilige bewaring. Dit is babas wat vir aanneming beskikbaar gestel word en vir die ʹafkoeltydʹ voor die aanneming plaasvind of moontlike ander plasing, in die sentrum versorg word.

 

 

Welriedal Kinder- en Jeugsorgsentrum

Geskiedenis

Gedurende 2001, word besluit om Winburg Kinderhuis te desentraliseer. Daar was toe omtrent 30 kinders van die Goudveld-area in die kinderhuis. Op 11 Julie 2002, het ‘n Aksie-komitee in Riebeeckstad vergader. Freegold (Harmony Gold) het 4 mynhuise in Lisztstraat geskenk. Die huise is twee-twee verbind en omskep in twee pragtige eenhede oorkant mekaar, met finansiering van NG Welsyn.

Ligging 

Welriedal Kinder- en Jeugsorgsentrum is geleë in Riebeeckstad, naby Welkom in die Vrystaatse Goudveld. Welriedal Kinder- en Jeugsorgsentrum het 2 huise nl. Welriedal 1: Lisztstraat 1 en 3 en Welriedal 2: Lisztstraat 2 en 4. Die naam het soos volg ontstaan: Wel - verteenwoordig Welkom, Rie - verteenwoordig Riebeeckstad en Dal - van Odendaalsrus.

Kinders

Al die seuns woon in Welriedal 1. Oorkant die straat bly al die dogters in Welriedal 2. Die kinders is almal tussen 0 en 18 jaar en kom van verskillende kultuurgroepe. Ons tree in ‘n noodgeval op as Plek van Veiligheid en dan is daar vir ‘n rukkie meer as 12 kinders in ‘n huis.

 

 

Winburg Kinder- en Jeugsorgsentrum

Geskiedenis

Winburg Weeshuis ontstaan gedurende 1903. Dominee J.J.T. Marquard het met die hulp van die Nederduits Gereformeerde Kerk en die gemeenskap besluit om ‘n tuiste vir die oorlogwesies te skep. Die weeshuis word gevestig op dieselfde terrein waar die sentrum vandag nog geleë is naamlik Gillespiestraat, Winburg. Die eerste hoof van die sentrum was mejuffrou Murray. Sy het die weeshuis begin met 11 kinders. Hul moeders is in die konsentrasiekamp oorlede.

Die weeshuis se naam is gedurende 1966 verander na Winburg Kinderhuis op versoek van die inwoners. Gedurende 1971 besluit die bestuur dat die geboue nie meer voldoen aan die behoeftes van die kinders nie en word daar begin om ‘n nuwe kompleks vir 164 kinders te bou. Na gelang die gebou gevorder het, is daar stelselmatig begin met die afbreek van die ou gebou. Die nuwe gebou is in Maart 1973 betrek. Gedurende 2000 word die naam verander na Winburg Jeugsorgsentrum.

Daar is gedurende 1902 tot 1905 nog drie groot kinderhuise deur die Nederduits Gereformeerde Kerk in die Vrystaat gevestig naamlik Ons Kinderhuis (220 kinders) te Bloemfontein, Charlotte Theron Kinderhuis (280 kinders) te Bethlehem en Gedenk Kinderhuis (155 kinders) te Ladybrand. Die werksaamhede van die kinderhuise word deur die Sinodale Kommissie vir die Diens van Barmhartigheid (SKDB) van die Nederduits Gereformeerde Kerk gekoördineer en gerig.

Hierdie kommissie het gedurende 2000 na verskillende modelle vir die versorging van wetsbestede kinders gekyk ten einde te verseker dat daar ten spyte van vele veranderinge steeds in die beste belang van die kinders opgetree word. Die diens moes effektief en bekostigbaar wees. Dit moes op ‘n aanvaarbare standaard die nood van soveel kinders as moontlik verlig.

Die Sinodale Kommissie vir die Diens van Barmhartigheid (SKDB) verleen op 29 Augustus 2001 goedkeuring dat ‘n oorhoofse bestuurstruktuur gevestig word. Volmag word aan die liggaam verleen om van die bestaande bates van die kinderhuise in kontant te omskep ten einde ‘n nuwe model te finansier.

Die eerste vergadering van die Hoofbestuur vir Vrystaat Jeugsorgsentrums word op 21 September 2001 gehou. Die model waarop besluit word, is dat ‘n Terapeutiese Sentrum op die terrein van Ons Kinderhuis gevestig word. Die sentrum moes versorging, opvoeding, ontwikkeling en behandeling aan 100 kinders met spesiale behoeftes bied. ‘n Verdere 600 kinders sou in 50 gedesentraliseerde sentrums, wat versprei word oor die provinsie, versorg word. Daar word besluit dat ongeveer 12 kinders van beide geslagte en alle ouderdomme in ‘n gedesentraliseerde sentrum versorg word. Elke sentrum sal ‘n kinderversorger, algemene assistent en deeltydse aflos-kinderversorger asook deeltydse maatskaplike werker in diens neem.

Hoofbestuur begin die proses van desentralisering deur Gedenk Kinderhuis te Ladybrand te desentraliseer. Daar is vanaf 2002 net een gedesentraliseerde Kinder- en Jeugsorgsentrum te Ladybrand. Die naam Gedenk word behou. Hierna word Ons Kinderhuis getransformeer tot ‘n Terapeutiese Sentrum. Gedurende 2005 word die plan wat grootliks op papier was, ook vir Winburg ‘n realiteit.

Die omskepte eenhede, wat opgegradeer en as afsonderlike fasiliteite omhein is, word September 2006 betrek. Winburg Kinder- en Jeugsorgsentrum is nou by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling geregistreer as ‘n Kinder- en Jeugsorgsentrum vir die versorging van 30 kinders. Die kinders help self om oor te trek van die groot fasiliteit na die klein sentrum met net twee eenhede.

Die bestuur het ook die konstitusie en bestuursplan hersien ten einde tred te hou met die proses van desentralisering en transformasie. Die omskepte eenhede, wat opgegradeer en as afsonderlike fasiliteit omhein word, word September 2006 betrek.

Die leuse van die sentrum is: “Die Here sal voorsien”. Dit ervaar die fasiliteit reeds vir meer as 100 jaar. Die wapen van die sentrum bestaan uit ‘n gekombineerde anker- en kruismotief. Die anker verwys na standvastigheid en die kruis dien as die Christelike simbool.

Ligging 

Winburg Kinder- en Jeugsorgsentrum is geleë te Gillespiestraat 13 & 15 in Winburg. Die twee wooneenhede staan bekend as Huis Diamant vir die seuns en Huis Smarag vir die dogters.

Kinders

Daar is 15 seuns en 15 dogters in Winburg Jeugsorgsentrum se versorging. Die kinders praat Sotho, Engels en Afrikaans. Beide die kinderversorgers is gekwalifiseerd en geregistreer by die SACSSP soos voorgeskryf en vereis word.

 

 


Notice: ob_end_flush(): failed to send buffer of zlib output compression (0) in /home/engoqsweb01/public_html/wp-includes/functions.php on line 5107